Vandag het ons aansoek gaan doen vir Paul (my jongste) se leerlinglisensie. Dit het beteken dat ek moes af vat van die werk omdat dit so ‘n lang uitgerekte proses is. Eerstens het Koos (manlief) die tolvrye nommer geskakel om ‘n afspraak te maak. Ons het nie ure gewag soos ons baie van gehoor het nie. Ons het binne ‘n halfuur deurgekom en is Paul dan op ‘n waglys geplaas. Koos het spesifiek gevra of Paul op 16 kan aansoek doen vir sy leerlinglisensie waarop die persoon positief geantwoord het. Ons is binne ‘n week geskakel met ‘n datum waarop hy dan sy toets sal skryf. Ons moes op die laatste vandag gaan betaal.
Vanoggend ‘n bietjie laat geslaap en toe vir Paul by die skool gaan haal. Ons was op pad na Akasia se “Traffic Department”. Eers moes ons die plek soek want daar was geen aanwysings nie. Goed en wel, ons het daar uitgekom. Daar gekom moes ons eers die ingang soek van die leerlinglisensies. Gelukkig het daar ‘n blanke vroutjie gestaan wat ons reggehelp het. Anders het ons by ‘n heel ander afdeling beland. Weereens geen bordjies wat vir jou ‘n aanduiding gee wat aangaan nie. Na ‘n uur se wag buite laat hulle ons toe soos skape een vir een in. Weereens geen bordjies nie. Ons volg maar die ander in ‘n gebou in wat uit ‘n groot saal bestaan. In die middel ‘n toonbank en ook aan weerskante. Geen bordjies wat vir jou aandui wat waar is nie. Ons volg maar weer die mense en ontdek toe dat diè daar is om hulle lisensies te hernu. Ek en Paul loop soos skape rond op soek na die leerlinglisensie afdeling. Gelukkig sien ons toe die vroutjie wat ook daar is vir haar leerlinglisensie. Sy was voorgeen daar en het gelukkig geweet watter kant toe. Om die hoek ontdek ons ‘n toonbank. Weereens geen bordjies. Ons word vorms gegee om in te vul en dan word daar gesê dat jy moet gaan vir ‘n oogtoets. Daar is darem ‘n bordjie wat sê “Eye Test”. Daar is darem vir ons stoeltjies in ‘n ry na al die staan. En soos altyd kry jy die mense wat voor jou inval. Sommer so terloops. Die keer sorg ek dat ek amper op die persoon se skoot langs my sit sodat die “kansvatter” nie ‘n kans kan kry nie. Terwyl ons sit kom ons agter dat Paul ‘n swart en wit id foto moet hê. Arme kind harloop vir ‘n vale na buite om ‘n plekkie te soek wat fotos neem. Toe ons amper moes ingaan kom hy uitasem met die fotos aan.
Uiteindelik ons beurt. Ek stap saam met hom in by die kantoor waar “mevrou” met oranje hare sit. Sy bekyk Paul se vorm en vra hoe oud hy is. Ewe trots beaam ek 16. Nee, hy kan nie aansoek doen vir ‘n motor leerlinglisensie nie. Jammer. Ek vertêl haar toe dat die call centre ons meegedeel het dat hy wel mag aansoek doen. Nee, sê sy, eers as hy 17 is, maar sy is ook nie nou heeltemal seker nie. My oordromme bars amper soos sy verby my skreeu na haar “supervisor” wat in die anderkant van die saal besig is met kliënte. Die stap op haar tyd aan en daar word oor en weer gepraat in zulu/sotho? Nee, sê die “supervisor”, hy kan eers aansoek doen as hy 19 is. Ek val amper op my rug. Ek en Paul kon maar net ons kop in ongeloof skud. Ek verander toe die aansoek na ‘n motorfiets lisensie en beveel hulle toe aan om tussen hulle en die call centre seker te gaan maak oor die ouderdom.
Weereens word ons gestuur na die kasiere waar ons moet betaal. Die keer staan daar ook bordjies “cashier”. Goed, ons gaan sit toe ewe geduldig in ‘n elle lange ry net om ‘n uur daarna uit te vind dat die leerlinglisensie onder in die saal by ‘n ander kasiere betaal moet word. Kan hulle nie net maar bordjie aanbring nie? Wil hulle regtig ons soos skape laat voel? Ek kry daardie idee! Ons sit toe ook meer as ‘n uur om te betaal vir Paul se leerlinglisensie (motorfiets).
Hartseer sê ek vir julle. Hartseer as ek sien hoe ons land agteruit gegaan het. Ek het jare terug vir die staat gewerk en alles was op hulle plek en die plek was netjies gewees. Vandag, ai vandag is dit ‘n skande hoe die plek lyk!
Wel, oor 2 weke gaan skryf Paul sy toets en dan sal ons maar sien of dit weer so ‘n gewag afgee. Jan-Hendrik (my oudste) wag nog vir sy afspraak … so ek en hy se gewag en gewag en gewag lê ook nog voor. En in die proses verloor ek 2 dae se werk. Mooi man, ons land is darem baie produktief!